Cosatu kap DA-plakkaat
2012-01-25 18:59
Durban – Die plakkaat van die DA Studente Organisasie (Daso) waarop ‘n jong paartjie van verskillende rasse in ‘n intieme posisie vertoon word, versterk die idee van “wit heerskappy”, het Cosatu in KwaZulu-Natal Woensdag gesê.
“Dit versterk wit heerskappy waarteen ons baklei het in die bevrydingstryd,” het Zet Luzipo, provinsiale sekretaris van Cosatu, gesê.
Hy het gesê die plakkaat, wat deur die Daso geskep is, maak ou wonde oop en handel nie oor opvoeding nie.
“Die plakkaat sê: ‘Sluit by die DA aan om ‘n liefdesverhouding met ‘n wit persoon te hê’. Die DA dink ons stryd vir demokrasie het gegaan oor die ontugwet en die groepsgebiedewet,” het Luzipo gesê.
“Ons sal nie opgewonde daaroor raak om ‘n liefdesverhouding met ‘n wit persoon te hê nie; ons sal nie daardeur verlei word nie.”
Hy het gesê as die DA nierassigheid wil bespreek, sal dit verwelkom word.
“Ons moet ongelykheid tussen swart en wit leerders aanspreek. Ons moet bespreek hoe ver ons gekom het sedert 1994.”
Makashule Gana, leier van die DA Jeug, het gesê die plakkaat was deel van ‘n veldtog om debat oor ras te skep.
“Om te sê dat die plakkaat seksueel is, is ekstreem. Die plakkaat sê baie,” het Gana gesê.
“Hulle omhels mekaar, en dit wys dat ons in hierdie land ‘n geleentheid kan vind om mekaar te omhels.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA