Cosatu hoop ANC 'skrik wakker'
2011-06-06 09:27
Kaapstad - Cosatu staan ’n goeie kans as hy die ANC wil oortuig om die omstrede inligtingswetsontwerp aan te pas voordat dit in die grondwethof draai.
Só het die grondwetkenner adv. Paul Hoffman, SC, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Verantwoordbaarheid, Sondag gesê.
Cosatu se leierskap sou die naweek met die regerende party vergader oor sy besware teen die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting in sy huidige vorm. Dit was Sondag egter nie duidelik of die vergadering plaasgevind het nie.
Cosatu meen die wetsontwerp – wat onder meer swaar tronkstrawwe voorstel vir mense wat geklassifiseerde inligting bekend maak – moet so aangepas word dat verklikkers en Suid-Afrikaners se reg van toegang tot inligting in openbare belang beskerm word.
’n Nasionale ANC-woordvoerder, Brian Sokutu, het gesê die dood van Albertina Sisulu het moontlik programme omgekrap. Hy meen egter dit staan enigeen vry om te verskil van die ANC se siening en dit op regsvlak uit te daag.
Cosatu se woordvoerder, Patrick Craven, het gesê hulle beoog om ’n regsmening in te win oor hul kanse sou die wetsontwerp wel in die grondwethof draai.
Hoffman het gesê daar is veel voor te sê dat die wetsontwerp nie voldoen aan grondwetlike vereistes rakende toegang tot inligting nie.
“Inligting beteken kennis en kennis is mag. Hoe gaan jy gewone Suid-Afrikaners bemagtig as die net van geklassifiseerde inligting so wyd gegooi word? Dit is nie hoe jy ’n oop, deursigtige samelewing bevorder nie.”
Hoffman het gesê hy hoop die ANC “skrik wakker” voordat die saak in die grondwethof beland.
Die ANC het verlede Vrydag toegegee dat die wetsontwerp nie voor 24 Junie afgehandel sal word deur die ad hoc-komitee wat daarna kyk nie.
Die komitee gaan nou aansoek doen by die speaker van die Nasionale Vergadering dat die spertyd uitgestel word tot ná die parlement se reses in Julie.
- Volksblad