Cosatu dreig ANC oor wet
2011-06-01 09:06
Kaapstad - Cosatu het die ANC Dinsdag met die konstitusionele hof gedreig indien daar nie “grootskaalse aanpassings” aan die omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting gemaak word nie.
Dié vakverbond, die regerende party se vernaamste vennoot in die drieparty-alliansie, het in ’n sterk bewoorde verklaring gesê hy is “diep bekommerd” oor die manier waarop die parlementêre ad hoc-komitee wat die wetsvoorstel oorweeg, daarmee te werk gaan. Die wet is ’n bedreiging vir deursigtigheid en sal bloot gebruik kan word om bedrog en korrupsie toe te smeer.
“Cosatu het die ANC om ’n vergadering gevra ten einde die wet te bespreek. As dit egter aanvaar word sonder grootskaalse aanpassings om fluitjieblasers en Suid-Afrikaners se reg van toegang tot inligting in openbare belang te beskerm, sal ons dit na die konstitusionele hof verwys vir beregting.”
Hoewel Zwelinzima Vavi, Cosatu-hoofsekretaris, hom al in die verlede teen die wet uitgespreek het, is Cosatu se verklaring die vakverbond se sterkste openbare teenkanting tot nog toe.
Dit kom te midde van die ANC se pogings om die wet so gou as moontlik te promulgeer en ’n besluit deur die komiteevoorsitter, Cecil Burgess (ANC), om ná maande se gesloer en beperkte debatvoering oor wetsbepalings oor klousules te begin stem.
Die komitee het Dinsdag vergader en vasgehaak oor die vlakke van klassifikasie en die definisie van die woord “sekuriteit”. Die ANC het egter kennis gegee hy wil ’n nuwe klousule byvoeg om ’n klassifikasie-hersieningspaneel, wat klassifikasiepraktyke jaarliks onder die loep neem, op die been te bring. Die DA het dit verwelkom.
Cosatu het gesê hy het begrip daarvoor dat verouderde inligtingswetgewing aangepas moet word. “Die nuwe wet, in sy huidige formaat, is egter ’n bedreiging vir Suid-Afrikaners se demokratiese reg om ten volle ingelig te wees oor kwessies van nasionale belang. Dit kan gebruik word om korrupsie en die misbruik van belastingbetalersgeld te verdoesel en kriminaliseer fluitjieblasers wat misdaad en korrupsie oopvlek.”
Daar word grootliks met die opposisie akkoord gegaan oor kernsake soos vlakke van klassifikasie, breë definisies (soos wat geklassifiseer kan word en wie dit mag doen) en die noodsaak van ’n verweer van openbare belang.
“Die komitee weier om die verweer van openbare belang in te sluit. Mense sal, te midde van toenemende korrupsie en ongerymdhede in die staat, huiwerig wees om die fluitjie te blaas as hulle die gevaar loop om ingevolge die wet gestraf te word. Dít ondanks duidelike redes waarom hulle dit moet onthul.”
Cosatu verwerp die magte wat aan lynhoofde in die staatsdiens gegee word om inligting te klassifiseer, die stywe boetes en tronkstraf wat opgelê kan word en die burokratiese gevolge van die wet.
“Die wet is ’n beduidende terugslag vir oopheid, deursigtigheid en verantwoordbaarheid...Verder is nog geen oortuigende betoë voorgehou waarom die wet deur die parlement gejaag moet word nie,” meen Cosatu.
- Die Burger