Cosatu dalk hof toe oor inligtingswet
2011-11-24 15:15
Johannesburg – Cosatu sal hom tot die konstitusionele hof wend indien pogings om die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting te wysig, misluk, het Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, Donderdag gesê.
Vavi het gesê Cosatu sal 'n dringende vergadering met die leierskap van die ANC belê om die wetsontwerp te bespreek.
Die ANC het nie reageer op 'n brief waarin Cosatu sy bekommernisse oor die wetsontwerp uitspreek nie, het hy gesê.
"Ons sal pres. Jacob Zuma vra om nie die wetsontwerp te onderteken nie. Ons hoop ons kan mekaar vind, maar indien alles misluk, sal ons na die konstitusionele hof gaan," het Vavi aan joernaliste in Johannesburg gesê.
Die wetsontwerp is Dinsdag deur die Nasionale Vergadering aanvaar.
Die ANC het gesê hy is daarvan oortuig dat die wetsontwerp 'n konstruktiewe rol in die grondwetlike demokrasie van Suid-Afrika sal speel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA