Cosatu-betoging teen e-tolstelsel begin stadig
2013-02-11 09:09
Johannesburg – Sowat 30 polisievoertuie het Maandagoggend op 'n oop stuk veld in Marabastad aan die buitewyke van Pretoria gestaan voor Cosatu se beplande optog oor die e-tolstelsel.
Teen 07:00 het minder as 10 Cosatu-aktiviste naby die voertuie byeengekom.
'n Ambulans was ook Maandagoggend op die toneel.
Luidens 'n verklaring wat verlede week deur Cosatu uitgereik is, sou die optog om 06:00 begin.
Die Tshwane-metropolisie het gesê die optog sal nie verkeer in die gebied so erg ontwrig nie.
Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van Cosatu, het gesê die optog sal in ander provinsies ook plaasvind, om te verseker dat dit 'n "nasionale kwessie" word.
Die tweede optog sal op 25 Februarige gehou word – dieselfde dag as die opening van die Gautengse wetgewer, terwyl die derde optog op 7 Maart sal plaasvind.
"Mense moet op daardie dag wegbly [van die werk af]. Die land moet tot stilstand kom."
Dakile het gesê verlede jaar se betogings was 'n "voorsmaak van wat voorlê".
"Al beteken dit daar moet elke dag 'n optog wees, ons is bereid om dit te doen totdat die regering na ons luister."
Die Pretoriase hooggeregshof het Vrydag die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) se verlof tot appèl toegestaan teen 'n vorige uitspraak en ook die kwessies van die hofkoste na die appèlhof verwys.
Outa het op 13 Desember 2012 aansoek gedoen om teen 'n uitspraak te appeller nadat die hooggeregshof sy aansoek om die tolstelsel te hersien, van die hand gewys het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA