Cosatu: Nuwe vigsplan kan verskil maak
2011-08-13 11:34
Johannesburg – 'n Nuwe plan om antiretrovirale middels (ARM's) aan alle MIV-pasiënte met 'n CD4-telling van 350 of laer te verskaf, sal sterftes laat afneem, het Cosatu Saterdag gesê.
"Hierdie is nog 'n mylpaal in die stryd om die dodelike MIV-pandemie te keer," het Patrick Craven, Cosatu se woordvoerder, gesê.
"As hierdie nuwe maatreëls effektief toegepas word, sal dit die lewensgehalte van baie mense met MIV verhoog."
'n Studie in Lesotho het bevind dat pasiënte wat met antiretrovirale behandeling begin het toe hulle telling bo 200 was, se kans om te sterf 68% minder was as pasiënte wat eers met die behandeling begin het toe hulle telling laer as 200 was, het Craven in 'n verklaring gesê.
"Die uitdaging is om seker te maak dat almal wat nou geregtig is op ARM's dit gereeld ontvang en dat die hoeveelheid nuwe infeksies drasties verminder."
Kgalema Motlanthe, adjunk-president van Suid-Afrika, het dié nuwe plan Vrydag in Bloemfontein aangekondig.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA