Cosatu: Korrupsie is SA se grootste bedreiging
2011-12-08 17:41
Johannesburg – Korrupsie is die elite se manier om van die armes te steel, het Cosatu se algemene sekretaris, Zwelinzima Vavi, Donderdag in Johannesburg gesê.
“Dit het ‘n kwessie van lewe en dood geword. Korrupsie is die grootste bedreiging vir die realisering van ons drome,” het hy by ‘n teenkorrupsieberaad gesê.
“Selfverryking sal ons van die regte pad af stoot.”
Vavi het gesê tot 20% van die regering se inkomste gaan weens korrupsie verlore, met amptenare wat gapings in die stelsel uitbuit om regeringstenders te bekom.
“Ons word deur ‘n nagmerrie in die gesig gestaar vir Suid-Afrika se toekoms... mense gebruik stelselmatig hul mag om dele van die samelewing vir hulself te eien.”
Hy het bygevoeg dat as die huidige ekonomiese stelsel van kapitalisme voortgaan met die “ek eerste”-mentaliteit, sal dit moeilik wees om korrupsie uit te dryf.
“Die kultuur van 'ek eerste' vermeerder en vermeerder tot een persoon in die land R627 miljoen ‘n jaar verdien... terwyl werkers minder as R1 500 per maand verdien,” het Vavi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA