Cosas betoog teen sluiting van 27 skole
2012-08-13 13:30
Kaapstad – Cosas beplan om die week te betoog teen die moontlike sluiting van 27 skole in die Wes-Kaap, is Maandag berig.
Samkelo Mqomboti, provinsiale sekretaris van die Congress of SA Students, het gesê leerders is baie ongelukkig, het die Cape Argus berig.
Cosas sal studente wat deur die sluitings geraak word, vra om deel te neem aan “vreedsame betogings”, het die nasionale en provinsiale kantore in ‘n gesamentlike verklaring gesê.
Mqomboti sê die provinsiale departement van onderwys moet die probleme by die skole oplos, eerder as om die skole te sluit.
“Skole is reeds oorvol. Hulle moet elke skool se probleme op sy eie oplos en nie as ‘n oorkoepelende oplossing die skole sluit nie.”
Bronagh Casey, woordvoerder van Donald Grant, die LUR vir onderwys, het aan die koerant gesê die mag van provinsiale ministers om skole te sluit, is ingesluit in die nasionale wetgewing en riglyne wat deur die ANC bekragtig is.
Sy sê die ANC en Cosas se teenkanting van die sluiting is sinneloos en misleidend.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA