Corolla 'uitmekaargeskeur' deur vragmotor
2010-03-07 14:16
Johannesburg - Vyf mense is dood in 'n ongeluk tussen 'n vragmotor en 'n Toyota Corolla op die R70 tussen Senekal en Ventersburg in die Vrystaat.
Dit is nie bekend hoe die ongeluk laat Saterdagnag gebeur het nie, het 'n woordvoerder van ER24, Werner Vermaak, Sondag gesê.
Paramedici het rondom 23:00 op die ongelukstoneel aangekom en vyf insittendes dood in die motor gevind.
Meeste van die drie mans en twee vroue het gesigbeserings opgedoen, en was onherkenbaar vermink, het Vermaak gesê.
Die vragmotor het omgekeer, en die Corolla is "heeltemal uitmekaargeskeur," het hy gesê.
Die vragmotorbestuurder is met ligte beserings na 'n hospitaal in Welkom geneem.
- Sapa