Cope weer hof toe oor LP’s se huise
2011-06-17 12:34
Rrajaa Azzakani
Kaapstad -Cope gaan hom weer tot die hof wend omdat dit uit ’n forensiese oudit blyk dat die toekenning van parlementêre huise die ANC wel erg bevoordeel.
Dennis Bloem, Cope-LP, meen terselfdertyd dat die departement van openbare werke ’n skikking buite die hof verbreek het.
Ingevolge die ooreenkoms moes ’n forensiese oudit, wat nog nie gepubliseer is nie, deur ’n onafhanklike maatskappy hieroor gedoen word.
Bloem meen egter dat daar ernstige gebreke in dié oudit is wat einde verlede maand by die hof ingedien is oor die toekenning van die huise aan LP’s by die drie parlementêre dorpe in die Moederstad.
Bloem het gesê die oudit misluk in belangrike opsigte, soos akkuraatheid. Uit die oudit blyk dit glo dat huise aan al 264 ANC-LP’s toegeken is. Altesaam 64 hiervan is egter ministers en adjunkte wat elders woon.
Groter en beter huise word glo vir ANC-LP’s gehou, terwyl opposisie LP’s met kleiner huise tevrede moet wees.
Koketso Sachane, woordvoerder van die departement van openbare werke, het by navraag gesê: “Die minister neem kennis van mnr. Bloem se uitlatings en sal later daarop reageer.”
Die toutrekkery kom nadat Bloem en biskop Lekoba Tola ná vanjaar se verkiesing uitsettingsbevele gekry het. Die departement van openbare werke wou hê Bloem en Tolo moet uit hul vierslaapkamerhuise na tweeslaapkamerhuise trek.
Bloem en Tolo het onderskeidelik drie en sewe kinders en was voor die verkiesing ANC-LP’s.
Hulle het geweier om uit die huise te trek, hulle tot die hof gewend en verlede maand buite die hof geskik.
LP’s betaal R197 huur per maand. Dit sluit water en elektrisiteit in. Hulle verdien tussen R770 000 en R1 miljoen per jaar.
Bloem het gesê uit die oudit blyk dit ’n groot deel van die 702 eenhede is nie beskikbaar vir toekenning aan LP’s nie. Hiervan is 299, of 43%, aan seisoenbeamptes toegeken en 49% aan LP’s.
Bloem het reeds ’n maand gelede uit sy parlementêre huis getrek, waarin hy 15 jaar gewoon het, en Tolo het drie weke gelede uitgetrek.
- Die Burger