Cope soek regsadvies
2010-04-30 14:15
Kaapstad – Die Congress of the People wil regsadvies inwin oor of ‘n splintergroep binne die party ‘n mosie van wantroue kan voortbring teen die party se president, Mosiuoa Lekota.
Dit kom te midde berigte dat ‘n mosie teen Lekota gebring sal word by ‘n spesiale vergadering wat die naweek in Johannesburg gaan plaasvind.
“Ek sou dink dat hulle so ‘n mosie kan voorlê, al is dit nie amptelik op die agenda nie,” het Phillip Dexter, LP van Cope, gesê.
“Selfs al word so ‘n mosie aanvaar, twyfel ek dat hulle die grondwetlike mag sal hê om dit te doen,” het hy gesê.
Dexter het gesê dat hulle regsadvies sal kry oor of ‘n splintergroep wettig toegelaat gaan word om ‘n mosie van geen wantroue in te dien.
Cope-woordvoerder JJ Tabane het gesê dat hy nog nie gehoor het van ‘n mosie om Lekota te verwyder nie.
“Die vergadering is ‘n spesiale CNC (Cope nasionale komitee) vergadering wat handel oor verskeie kwessies in die organisasie, insluitende voorbereidings vir die opkomende kongres,” het hy gesê.
Cope se jeugleier Anele Mda, wat Lekota daarvan beskuldig het dat hy ‘n “mafia en dief benadering” tot leierskap gebruik, het gesê dat die jeugliga nog nie besluit het of hulle die mosie gaan ondersteun nie.
Lekota het sy adjunk, Mbhazima Shilowa, die voormalige premier van Gauteng, daarvan beskuldig dat hy sy pligte as die party se hoofsweep en hoof-rekenmeester, afskeep.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter