Cope se jeugliga verkla Lekota van korrupsie
2010-11-08 06:39
Die Burger
Johannesburg - Cope se jeugliga het Sondag ’n saak van korrupsie en bedrog teen onder meer Mosiuoa Lekota, dié party se waarnemende president, aanhangig gemaak.
Malusi Booi, Cope se jeugsekretaris, het Sondag by die Centurion-polisiekantoor in Pretoria aanklagte teen Lekota, Hilda Ndude, Cope se tesourier, asook Cope-LP’s Julie Killian en Dennis Bloem aanhangig gemaak “weens hul betrokkenheid by die R5 miljoen-sage”.
Volgens Booi het Killian en Bloem goedgekeur en daarvoor geteken dat belastingbetalers se geld na Cope se rekening oorgeplaas word. Hy beweer Lekota en Ndude het die geld “ontvang en bestee”.
“Die nasionale stuurkomitee het gister (Saterdag) besluit om ’n korrupsie- en bedrogsaak te open omdat hierdie ernstige ongerymdhede en oortredings is,” het Booi Sondag gesê.
Dít kom nadat Mbhazima Shilowa gesê het hy oorweeg regstappe omdat ’n voorlopige forensiese oudit deur KPMG na Cope se geldsake hom verantwoordelik hou vir onder meer die misbruik van parlementêre geld van meer as R5 miljoen.
Dié bedrag is 25% van die R20 miljoen se parlementêre geld wat Cope ontvang het.
Luidens die verslag is sekere bedrae nie ingevolge die beleid oor partypolitieke toelaes bestee nie. Daaronder is R5 miljoen wat vir reis-, verblyf-, konferensie-, spysenierings- en kantoorkoste aan Cope betaal is, maar gebruik is om voorverkiesingskuld te betaal.
As rekenpligtige amptenaar word Shilowa verantwoordelik gehou vir dié administratiewe ongerymdhede. Booi, ’n Shilowa-ondersteuner, is egter self hierby betrek. Luidens die verslag word ’n transaksie waarby sowat R580 400 wat vir handelsmerkgoedere betaal is aan C-yoyo, Booi se eie maatskappy, bevraagteken.
Luidens die KPMG-verslag is Bloem se handtekening wat betalings goedkeur, vervals.
Phillip Dexter, Cope-woordvoerder, het Booi se aksie Sondag as “belaglik” bestempel. “Dis ’n desperate aksie van ’n desperate man,” het Dexter gesê.
- Die Burger