Cope se Shilowa dalk ook pos as LP kwyt
2010-11-09 08:03
Die Burger
Kaapstad - Mbhazima Shilowa, onderleier van Cope wat reeds as hoofsweep en rekenpligtige beampte in die pad gesteek is, sal waarskynlik ook teen Vrydag sy pos as parlementslid kwyt wees.
Strafregtelike en siviele klagte word boonop ook tans teen hom voorberei.
Die party se swepery het aan die sentrale werkkomitee aanbeveel dat Shilowa en Lolo Mashiane, die administratiewe sweep, van hul parlementêre poste onthef word vir die duur van hul onderskeie tugverhore. Die komitee vergader Vrydag.
In ’n voorlopige forensiese ondersoek deur KPMG word Shilowa onder meer verantwoordelik gehou vir die misbruik van parlementêre geld van meer as R5 miljoen.
Thomazile Botha, waarnemende hoofsweep, het Maandag op ’n nuuskonferensie by die parlement gesê tugstappe sowel as ’n siviele saak om die geld van Shilowa te verhaal, is aan die gang.
“Strafregtelike klagte en tugstappe word tans teen Shilowa voorberei.
“As jy die verslag fyn bestudeer, sê dit daar was bedrog tot die punt waar daar prima facie-getuienis vir ’n bedrogsaak is. Ons sal ’n regsmening inwin oor hoe om voort te gaan met dié klagte.”
Malusi Booi, Cope se jeugsekretaris, het Sondag ’n klag by die polisie teen Mosiuoa Lekota, Cope-leier, Hilda Ndude, tesourie, Dennis Bloem en Juli Kilian, Cope-LP’s, aanhangig gemaak weens hul “betrokkenheid by die R5 miljoen-sage”.
Bloem en Kilian het Maandag op dieselfde nuuskonferensie aanspreeklikheid ontken en gesê Shilowa het die besteding van die R5 miljoen goedgekeur. Volgens Botha het Cope Vrydag met die sekretaris van die parlement vergader om verskoning te maak vir die valse geldstate vir 2009-’10 wat Shilowa ingedien het.
Die party beplan om die akkurate geldstate by die parlement in te dien. Shilowa sal voor die parlementêre etiekkomitee moet verskyn om dié “wanvoorstelling” aan die parlement te verduidelik.
Ander mense teen wie tugstappe oorweeg word, is:
Booi, wat glo ’n tender vir handelsmerkgoedere van sowat R580 000 vir Cope sonder ’n behoorlike tenderproses ontvang het;
Shilowa se boekhouer, Pat Gamede, wat glo onwillig was om aan die forensiese ondersoek deel te neem;
John Ngcebetsha, Shilowa se regsverteenwoordiger, in verband met persoonlike reis- en verblyfeise; en
J.J. Tabane, adviseur van eerw. Mvume Dandala, oud-parlementêre leier, in verband met persoonlike vervoeruitgawes.
- Die Burger