Cope ontken saamsmelt-berigte
2011-11-03 16:45
Kaapstad – Die Congress of the People het ontken dat dié party enige planne het om met die Demokratiese Alliansie saam te smelt.
“Ons wil dit kategories stel dat Cope sy eie identiteit en visie het,” het Hilda Ndude, senior lid van Cope, Donderdag by die Parlement aan verslaggewers gesê.
“Daar is geen voornemens van Cope se LP’s om by die DA of enige ander party aan te sluit nie.”
Berigte dat die party ‘n samesmelting beplan, is “baie kwaadwillig”, het sy gesê.
Die Sowetan het vroeër vandeesweek berig die party wou hê sy lede moet by die DA aansluit ná die verkiesing van Lindiwe Mazibuko as die DA se eerste swart parlementêre leier.
“Die Sowetan het betroubaar verneem by bronne binne beide Cope en die DA dat Mosiuoa Lekota, leier van Cope, ‘n dokument opgestel het waarin hy vra vir meer samewerking met die DA...” het die koerant Maandag berig.
Die koerant het ‘n bron “binne die DA” aangehaal wat gesê het “sleutel-persone sal na die DA oorloop...”.
Die DA se federale voorsitter, James Selfe, het Donderdag by navraag gesê daar was geen amptelike gesprekke tussen die twee partye nie.
Gevra of hy deur Cope genader is om ‘n samesmelting te bespreek, het Selfe, wat haastig was om ‘n vergadering van die DA-koukus by te woon, geantwoord: “Nee.”
Ndude het aan verslaggewers gesê die berig in die Sowetan was “laf en baie kwaadwillig”.
Sy het gesê Cope se LP’s “verwerp saam berigte dat ons in praatjies oor samesmeltings, wat gesien kan word as ‘n eksodus van ons LP’s wat by die DA aansluit, betrokke is”.
Dit sluit egter nie die moontlikheid van “samewerkende reëlings” met ander opposisiepartye in die 2014-verkiesings in nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA