Cope-leiers wil vrede maak, maar sit nie saam
2010-08-22 08:28
Hoewel Mbhazima Shilowa meen die “strydbyl moet begrawe word”
tussen hom en Mosioua Lekota, het hy toe nie langs Lekota in die
parlement gaan sit nie.
Trouens, hy was nog nie in die parlement
sedert Lekota as LP beëdig is nie. Daar word nou bespiegel of die
Cope-leier en sy adjunk mekaar gaan aflos in die voorbank.
Regter
Essa Moosa het Dinsdagoggend probeer om ’n reddingsboei aan die twee
strydende faksies te gee, maar of hulle gaan swem, bly nog ’n raaisel.
Lekota
het ná die hofuitspraak gesê Moosa se uitspraak het die nasionale
werkkomitee (CNC) se omstrede besluite van 2 Julie bekragtig: “Ons kan
nou voortgaan om ons besluite uit te voer.”
Daarna het hy hom na
die parlement gehaas vir sy beëdiging deur speaker Max Sisulu. Hy was
Dinsdagmiddag op sy pos in die voorbank.
Shilowa, wat deur ’n
groep ondersteuners voor die hof begroet is, het ’n uur later sy eie
vertolking van die uitspraak gegee: “Die CNC-besluit om ons van ons
ampte te onthef was inderdaad onwettig.”
Shilowa het eers die uitspraak met adv. John Ngcebetsha, sy prokureursvriend en Cope-lid, deurgewerk.
Moosa
het beslis Lekota mag die parlementêre leier wees omdat die CNC-besluit
op 2 Julie wel ’n kworum gehad het. Shilowa en me. Lolo Mashiane,
Cope-LP en administratiewe sweep, is volgens Moosa onwettig uit hul
poste ontslaan.
Shilowa en Mashiane was, ná Moosa se uitspraak, reg om hulle tot die hof te wend.
Shilowa
het gesê hy wil nie reageer op Lekota se beweerde waninterpretasie van
die uitspraak nie. Hy en Mashiane sal terugkeer parlement toe as
volwaardige swepe en hul pligte hervat. Hy sê die party het nou ’n “tyd
van genesing” nodig. “Ons moet die strydbyl begrawe ... nie in mekaar se
rûe nie.”