Cope-leiers rafel uit soos 'straatboewe'
2010-10-10 14:51
Die pad na die “ware” nasionale verkiesingskongres op 5 en 6 November gaan moeisaam wees as Cope se nasionale komitee (CNC) se vergaderings so uitrafel soos Vrydag s’n.
Volgens Cope se vrouebeweging het Mosioua Lekota en ’n “handjie vol” van sy volgelinge uitgeloop uit Vrydag se vergadering nadat die CNC sy besluit oor ’n agendapunt verwerp het.
Phillip Dexter, Cope-woordvoerder, het by navraag gesê dit is bog.
“Die vergadering het verdaag weens die bohaai en van ons CNC-lede het net vinnig uitgeloop,” het hy Saterdag gesê.
Zale Madonsela, adjunkvoorsitter van die vrouebeweging, het Saterdagoggend aan Rapport gesê daar was probleme oor Lekota se hantering van die saak van seksuele teistering van Nozi Didiza-Ndlela (nasionale sekretaris van die vrouebeweging).
Willie Madisha, Cope-LP, het glo by ’n vorige CNC-vergadering aan haar agterstewe gevat.
“Die president (Lekota) wou nie oor die aangeleentheid praat nie en het die punt summier gesluit,” het Madonsela gesê.
Volgens Madonsela was Madisha eerstens Vrydag teenwoordig toe sy saak bespreek is, totdat hulle daarop aangedring het dat hy uitgaan.
Voorts is die dissiplinêre komitee na bewering sonder die CNC se toestemming verander en is ’n voormalige sekretaresse van Lekota uit sy dae as minister van verdediging aangestel om daarin te dien.
“Hoekom het hulle die komitee verander, en wie het toestemming gegee? Die CNC is Cope se hoogste besluitnemingsliggaam,” het sy gesê.
Daarbenewens is Madisha onskuldig bevind en is Didiza-Ndlela nie eens daarvan verwittig nie.
Dexter het gesê die CNC het die teisteringsaak afgehandel, maar die vrouebeweging onder leiding van mev. Kiki Rwexana (nasionale voorsitter) het soos “straatboewe van Polokwane” te kere gegaan.
“Dit staan hulle altyd vry om appèl aan te teken,” het Dexter gesê.
- Rapport