Cope laat parlement giggel
2011-02-10 22:00
Kaapstad - Cope se brommerige medestigters, Mosiuoa Lekota en Mbhazima Shilowa, het Donderdagaand huiwerig langs mekaar in die parlement gesit toe President Jacob Zuma sy staatsrede gelewer het.
Toe die kameras op die twee gefokus het, het parlementslede en gaste uitgebars van die lag vir meer as ‘n minuut.
Zuma het opgekyk na die skerm en vinnig ‘n giggel gesluk voordat hy teruggekeer het na die staatsrede.
Lekota en Shilowa stamp in onlangse weke hard kop oor wie nou eintlik die party se leier is.
Lekota het voor die staatsrede aan verslaggewers gesê daar sal geen “kragmeting” tussen die twee by die parlementsopening wees nie.
“Nee, daar sal nie ‘n kragmeting wees nie. Hierdie is die parlementsopening... en die Speaker is hier,” het hy op pad na die rooi tapyt gesê.
Joernaliste het geskarrel om ‘n joviale Lekota tegemoet te kom. Hy het aan die joernaliste gesê hy het ‘n brief van die parlement gekry wat gelui het dat hy steeds as president van die party herken word.
“Die voorsittende beampte het gesê hulle herken die party se leierskap soos dit verlede jaar deur ons geregistreer is.
“Hulle het ons brief gekry dat Shilowa geskors is,” het hy gesê.
Lekota het gesê Shilowa is “okay”.
“Ek is bly vir hom, hy moet hier iewers wees,” het hy gelag.
Shilowa het gesê hy is die party se president ná ‘n chaotiese byeenkoms in Pretoria verlede jaar.
Lekota het egter gesê dié konferensie is agtergelaat weens gewelddadige botsings tussen sy ondersteuners en dié van Shilowa.
Beide Lekota en Shilowa sê hulle is die party se president.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA