Cope gaan mosie van wantroue teen pres. Zuma indien
2010-02-19 09:37
Philda Essop
Kaapstad. – Eerw. Mvume Dandala, Cope se parlementêre leier, het Donderdag aangedui dié party gaan met die volgende sitting van die Nasionale Vergadering ’n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma indien.
Volgens Dandala is Zuma se “mislukking om aan die verwagtinge van die breë spektrum van Suid-Afrikaners te voldoen”, die rede vir dié stap.
Die party het vroeër geëis dat Zuma bedank omdat hy die land in die “skande gesteek en verneder” het.
Hy is ook geen rolmodel nie.
Die party het verlede week gesê as Zuma nie self bedank of die ANC hom dwing om dit te doen nie, sal Cope ’n mosie van wantroue teen hom instel na aanleiding van Zuma se bekentenis dat hy ’n buite-egtelike kind by Sonono Khoza verwek het.
Die ANC het vroeër dié besluit as ’n goedkoop politieke spel afgemaak.
- Die Burger