Cope-faksies veg nou vir gebruik van naam
2010-12-19 07:59
’n Terminaal verdeelde Cope sal nou in sy volgende ronde hofsake
verstrengel raak om te bepaal watter faksie die Cope-naam behou.
Die party het die afgelope week ’n tweede keer ’n nasionale
verkiesingskongres probeer hou, maar dit het weer eens in chaos verval.
Mosiuoa Lekota, wat Woensdag die kongres as leier ingegaan
het, het Vrydagoggend vir sy ondersteuners in die Heartfelt- Arena-saal
in Pretoria gesê hulle moet hom per bus na die Tshwane-skouterrein volg.
Ná drie dae van stoele rondgooi, badkamers verniel en dreigende geweld
het Heartfelt Arena, ’n kerkgroep, vir Cope die trekpas gegee.
Mbhazima Shilowa, wat die kongres as adjunkleier betree het,
het vir sy volgelinge gesê om buite in die Arena-parkeerterrein te
vergader om die langverwagte verkiesing af te handel. Shilowa is hier
tot leier verkies en Mluleki George tot adjunkleier.
Na verwagting sal die twee groeperings nou begin wedywer om die
naam Congress of the People (Cope). Daar doen selfs ’n gerug die ronde
dat ’n derde groep gaan afstig onder leiding van Neville Mompati,
LPW van die Noord-Kaap.
Vanuit die Shilowa-kamp word beweer die naam behoort aan die groep wat die kongres met ’n verkiesing afgesluit het.
Die verkiesing is met die opsteek van hande beklink in die
teenwoordigheid van die verkiesingsinstituut vir volhoubaarheid van
demokrasie (Eisa).
Rapport het gisteroggend verneem dié faksie steur hulle nie aan die moontlikheid van hofsake nie.
“Lekota het nie aan die verkiesing deelgeneem nie omdat hy en sy
ondersteuners geloop het,” het mnr.Sipho Ngwema, ’n woordvoerder vir
Shilowa, gister gesê.
“Maar ons het nooit die kongres begin nie,” was Phillip Dexter, Cope-woordvoerder, se teenvoeter.
“Daar is dus geen geregtelike rede vir Shilowa-hulle om te dink die
kongres is met ’n verkiesing afgesluit nie. Deur ’n verkiesing onder ’n
boom te hou en hul eie leierskap te kies, het hulle as’t ware van Cope
afgestig,” het Dexter gesê.
Lekota het Vrydagmiddag sy posisie beklemtoon deur ’n
perskonferensie by Cope-huis in Johannesburg te hou. Hy beplan ook om
binnekort weer ’n nasionale kongres te hou.
Shilowa, daarenteen, het soos bepaal in die Cope-grondwet hom aan
die provinsiale leierskap onderwerp. Luidens die Cope-grondwet het die
party se nasionale komitee Donderdag om middernag verstryk, waarna
leierskap terugval op provinsiale voorsitters en sekretarisse.
Volgens die nasionale ouditlys wat kort voor die kongres afgehandel
is, is minstens ses van die provinsiale leiers Shilowa-gesindes.
- Rapport