Cope by kruispad met leierskorps ‘konfronterend’
2010-05-02 12:09
Jan-Jan Joubert en Suné Kitshoff
Kaapstad - Cope het gisteraand op die rand van die afgrond gehuiwer met die
vergadering van sy sentrale nasionale komitee wat glad nie versoenend
begin het nie.
Bronne in die vergadering het ’n breekspul
gevrees, met die party se leierskorps wat ’n uur en ’n half geneem het
net om op ’n agenda ooreen te kom.
“Die bui is baie
konfronterend,” het een van die Cope-leiers vanuit die vergadering aan
Rapport gesê.
Alle aanduidings was dat die vergadering tot diep
in die nag sou duur en vandag sou voortgaan.
Die party het die
afgelope paar weke skerp verdeel tussen diegene wat lojaal is aan die
leier, mnr. Mosiuoa Lekota, en diegene wat sy adjunk, mnr. Mbhazima
Shilowa, steun.
Aan Lekota se kant word figure soos die
oudvakbondman mnr. Willie Madisha, die kommunikasieghoeroe mnr. Smuts
Ngonyama en die partywoordvoerder, mnr. Philip Dexter, getel.
Aan
die Shilowa-kant word die name van dr. Mvume Dandala, parlementêre
leier, me. Anele Mda, jeugleier, en drie leiers in provinsiale wetgewers
naamlik me. Lyndall Shope-Mafole (Gauteng), me. Nikiwe Num (Noordwes)
en mnr. Andile Nkhuhlu (Oos-Kaap) genoem.
Bronne in gister se
rigtinggewende vergadering, in ’n maand waarin verskeie provinsiale
kongresse Shilowa as leierskandidaat benoem het, maar
Lekota-ondersteuners aanvoer ledelyste is ongeldig en geld is gesteel,
kon nie sê wie die meerderheid vorm nie.
“Twee of drie stemme kan
die meerderheid bepaal,” is vanuit die vergadering aan Rapport gesê.
Intussen
word daar openlik baklei tussen lede van die party, wat 17 maande
gelede met soveel optimisme in Bloemfontein gestig is.
Een van
die groot slagvelde is die internet, met sterk bewoorde bydraes deur
Cope-ondersteuners aan albei kante van die verdelingslyn op die sosiale
netwerke Facebook en Twitter (sien kassie hiernaas).
Lekota het
Woensdagaand in Kaapstad aan die media beweer alles is nie pluis met
Cope se parlemen- têre geldsake nie, en die vinger na Shilowa gewys.
Mda
het Lekota as ’n diktator beskryf en gevra dat enige bewyse swart op
wit verskaf word.
Sy meen dis wilde bewerings wat slegs gemaak
word omdat die Lekota-kamp weet hulle kan nie die magstryd wen nie.
Johann
Maarman berig ’n verslag wat ná ’n ondersoek deur mnr. Hennie Kieser
opgestel is, beweer onder meer dat
Cope-lidmaatskapvorms in
kleedkamers geberg word en dat kinders onder 18 jaar wederregtelik as
lede ingeskryf word.
Shilowa-ondersteuners meen die verslag is
sommer agteraf gedoen, maar Lekota-ondersteuners meen die
lidmaatskaplyste, waarvoor die algemene sekretaris, me. Charlotte Lobe
(’n Shilowa-ondersteuner), verantwoordelik is, is ’n chaos.
Hulle
meen dus dis onmoontlik om einde vandeesmaand ’n behoorlike kongres te
hou om leiers te kies, terwyl die Shilowa-kamp meen dis heel moontlik.
Dis
hierdie warboel wat die huidige vergadering moet probeer ontrafel.
’n
Nuuskonferensie sal waarskynlik teen vanaand of môre oor die afloop van
die vergadering gehou word.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.