‘Comrade’ Cronin swig nie voor weelde
2009-09-06 14:53
Kaapstad - Twee kommuniste in dieselfde regering – maar die een het blykbaar ’n voorliefde vir duur kapitalistiese speelgoed, soos blink weeldemotors.
Dr. Blade Nzimande, SAKP-leier en minister van hoër onderwys, word rondgery in ’n splinternuwe BMW-motor. Die rekening vir die belasting-betaler? R1,1 miljoen, comrade!
Mnr. Jeremy Cronin, adjunkminister van vervoer en Nzimande se rooi kollega in die regering, gee egter tans nog gestalte aan pres. Jacob Zuma se beloftes oor ’n spaarsamige regering.
Cronin het aan Rapport verklap die Jetta wat hy in 1999 gekoop het toe hy die parlementsgeboue in Kaapstad vir die eerste as LP betree het, is steeds sy gunsteling-ryding.
Dis nou as hy nie deur veiligheids-beamptes rondgery móét word nie. En ja, ook hy sal dalk eersdaags voor die kapitalistiese leefstyl moet swig.
Die departement van vervoer is besig om vir hom ’n nuwe motor te reël. Maar van die proses weet hy maar min, sê Cronin.
“Heelparty van ons is ongemaklik daarmee om rondgery te word,” sê Cronin in reaksie op die herrie oor die duur motors wat onlangs deur van sy kollegas in die kabinet gekoop is vir buitensporige bedrae geld.
“Dit is ’n kwessie wat op ’n kollektiewe manier gehanteer moet word,” sê Cronin soos ’n goeie kommunis.
Die ministeriële handboek laat toe dat ’n motor wat nie meer as 70% van die betrokke kabinetslid se salaris kos nie, met belastingbetalersgeld gekoop mag word.
Maar die handboek word nou hersien, sê Cronin.
“Daar is ’n sterk bewustheid van hierdie soort goed in die kabinet. Eerstens omdat die kabinet dinge natuurlik anders as die vorige regering wil doen, en tweedens omdat ons in ’n resessie is.
“Dit beteken nie ons gaan voorgee om arm te wees wanneer ons nie is nie. Maar daar is besluite wat geneem moet word.”
Hy meen Nzimande is nie oorgerus oor die onderwerp nie.
“Dit help egter nie om individue uit te sonder nie. Motors is ook nie die belangrikste gebied waar gekyk moet word na grootskaalse besnoeiing nie.”
Hy meen die alewige gereis van ministers en LP’s tussen Pretoria en Kaapstad jaag uitgawes baie op – veral omdat dié reise gewoonlik met groot gevolge gepaard gaan.
Departemente wat uitspattig met hul geld werk, kom ook volgens hom onder die nuwe minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, se vergrootglas.
Cronin sê hy het geen benul watter model sy Jetta is nie.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport