Chuene ontken nou leuens
2009-10-21 06:29
Pieter du Toit
Kaapstad-Leonard Chuene, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), het gister van deuntjie verander en gesê hy het nóóit erken dat hy gejok het oor sy kennis van geslagtoetse op die atleet Caster Semenya nie.
In ’n verstommende ommekeer sedert ’n nuuskonferensie presies ’n maand gelede – waartydens hy gesê het hy het gejok om haar te beskerm en hy die publiek daarvoor om verskoning gevra het – het hy gister aan die parlementêre portefeuljekomitee oor sport gesê sy “bekentenis” is verkeerd verstaan.
“Dalk moes ek in Pedi gepraat het. Dit is immers my eerste, tweede, derde en vierde taal,” het hy gesê. Hy het volgehou hy is die slagoffer van ’n smeerveldtog deur die media en dat hy dít wat in koerante geskryf is nié bedoel het nie.
ASA het by monde van sy woordvoerder, Chris Britz, gesê hy het Semenya se geslag nog nooit betwyfel nie en hy sal die uitslae van geslagtoetse deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF), asook ’n ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese komitee, “nóóit” aanvaar nie.
Oor die IAAF se toetsuitslae wat eersdaags bekend gemaak sal word, het ASA gesê hy is gereed vir ’n “uitgerekte bakleiery” met dié atletiekbeheerliggaam.
Britz het presies dieselfde verklaring aan die komitee voorgelees as dié van Chuene destyds aan die Nasionale Persklub in Pretoria, voor wie hy “gebieg” het.
Hy het herhaal dat ASA se “nalating” om eerlik oor die geslagtoetse op Semenya te wees nie in kwade trou was nie, maar suiwer om haar te beskerm.
Volgens hom plaas die IAAF gedurig “landmyne” in die pad van vroulike atlete en was dié liggaam daarop uit om haar deelname in Berlyn te verhinder.
Die kritiek op Chuene het ten doel om “wraak te neem” en word gedryf deur ’n “sekere sektor” van die atletiekgemeenskap wat hulle teen transformasie verset. “Ongelukkig is atletiek volgens rasselyne verdeel,” het Britz gesê.
Opposisie-LP’s het Chuene geroskam en gesê sy en ASA se optrede was laakbaar. Mnr. Donald Lee (DA) het aan Chuene, wat hom van “politieke opportunisme” beskuldig het, gesê dit mag so wees, maar hy kan ten minste nooit vir ’n leuenaar uitgekryt word nie.
Komphela, wat die media daarvan beskuldig het dat hulle die Semenya-sage “beduiwel”, het Chuene verbied om enige onderhoude aan die media toe te staan.
Intussen het atletiekklubs van Soweto die naweek ook ’n mosie van wantroue teen Chuene en die ASA-raad aanvaar.
Hulle volg daarmee die voorbeeld van vier atletiekunies – Noord-Gauteng, die Boland, WP en OP – en Universiteitsport Suid-Afrika se atletiekraad.
- Die Burger