Chuene-hul móét loop, anders...
2009-11-10 09:13
Johannesburg - Leonard Chuene en sy raad is voor 'n ultimatum gestel om teen Woensdag te bedank of kriminele aanklagte van bedrog ingevolge die Wet op Maatskappye sal teen hulle gebring word, berig The Times.
Dié ultimatum is deur vier provinsiale atletiekliggame, die Westelike Provinsie, Oostelike Provinsie, Boland en die Vrystaat, aan die voorsitter van Atletiek Suid-Afrika, Chuene en sy raad gestel.
Volgens dié atletiekliggame het Molatelo Malehopo, uitvoerende hoof van Atletiek Suid-Afrika (ASA), ook versuim om dié organisasie se finansiële state bekend te maak. Talle pogings deur dié liggame om die finansiële state te bekom, het glo misluk.
Die hele ASA-raad is verlede week deur Suid-Afrika se Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc) geskors oor "hangende die resultate van 'n dissiplinêre ondersoek en verdere aksie” oor die hantering van die Caster Semenya sage.
SASCOC oorweeg ook gepaste aksie teen die IAAF vir "die manier hoe Semenya’s se reg op privaatheid geskaad is."
– Nuus24