Chuene hoor: ‘Loop dadelik’
2009-11-16 06:25
Wilhelm de Swardt
Johannesburg - Leonard Chuene, voorsitter van Atletiek Suid-Afrika (ASA), en die uitvoerende raad van ASA moet bedank, begin al hoe meer atletiekprovinsies en atlete eis.
Die naweek was die boodskap op ’n spesiale atlete-vergadering in Johannesburg, ’n spesiale vergadering van Gauteng-Noord én een van Mpumalana duidelik dat daar vir Chuene en sy trawante geen rol in Suid-Afrikaanse atletiek meer is nie.
Hendrick Ramaala, Suid-Afrika se voorste marathon-atleet, en Mbulaeni Mulaudzi, die wêreldkampioen in die 800 m, het die protesaksie ondersteun.
Chuene-hulle sal ’n groot fout maak om dié vergadering te probeer afmaak as rasgedrewe.
Die oorgrote meerderheid van die atlete wat eergister se vergadering bygewoon het, was swart.
In die opmerkings-kolom van die petisie wat die atlete onderteken het, het ’n paar atlete geen geheim gemaak van hoe hulle voel nie.
“Weg met die fasciste ... Loop dadelik ... Bedank nou ... ” was van die opmerkings.
In die verklaring wat die atlete uitgereik het, word daar geëis dat Chuene en ASA se raad onmiddellik bedank en dat die onderskeie atletiekprovinsies dringend ’n vergadering belê sodat daar ’n nuwe bestuur vir ASA verkies kan word.
Daar word verder geëis dat mnr. Molatelo Malehopo, uitvoerende hoof van ASA wat verlede week na bewering sy posisie in ASA se kantoor misbruik het deur met ’n sms steun vir Chuene te probeer werf, moet bedank, asook me. Phiwe Mlangeni- Tsoletsane, spanbestuurder en sakevrou, en me. Humile Bogatsu, Chuene se omstrede sekretaresse.
Van die atlete wat die vergadering bygewoon het, wou weet wat sal gebeur as dinge veel langer so aangaan.
Hul bekommernis is of daar volgende jaar wel ’n georganiseerde atletiekseisoen sal kan plaasvind en wie die byeenkomste gaan borg, want die beweringe word al hoe meer gehoor dat ASA bankrot is.
Op die spesiale vergadering van Gauteng-Noord het mnr. Chris Britz, voorsitter, en sy hele raad bedank nadat hulle gevra het dat die vergadering vir ’n paar minute kan verdaag sodat hulle onder mekaar kan koukus.
Toe hulle terugkom, het hulle hul bedanking ingedien.
Op Mpumalanga se spesiale vergadering het 39 van die 41 geaffilieerde klubs gestem dat Ben Makola onmiddellik as voorsitter geskors word en voor ’n tugverhoor verskyn.
Makola is Chuene se grootste lofsanger.
Net in die afgelope agt dae het drie provinsies standpunt teen Chuene-hulle ingeneem.
Nie-amptelik het Sentraal-Gauteng ook al sy steun aan Chuene-hulle onttrek.
Dié besluit moet nog net bekragtig word, terwyl dit net ’n kwessie van tyd is voordat Sentraal-Noordwes hom ook by die ontevredenes aansluit.
Dit sal beteken dat al die groot atletiekprovinsies met die uitsondering van KwaZulu-Natal nie meer vir Chuene steun nie. Larraine Lane, ASA-raadslid, het gister bedank.
Sapa berig Ray Mali van Saskok sal vandag ASA se administrasie oorneem en dat Chuene vandag sy kantoor sal verlaat.
- Die Beeld