Chuene betaal glo om seks geheim te hou
2010-09-19 09:13
Johannesburg - Die Leonard Chuene-regime van Atletiek Suid-Afrika (ASA) het ’n
personeellid glo R82 654 betaal in ruil vir haar bedanking en “om haar
mond te hou”.
Haar swye is gekoop om te verhinder dat Chuene se
“intieme en/of seksuele verhouding” met sy persoonlike assistent, Humile Bogatsu, op die lappe kom.
En dié (nou geskorste)
voormalige atletiekbaas het “eensydig en sonder goedkeuring” ’n betaling
van R1,7 miljoen gelas aan Banele Sindani, wat teen R110 000 per
maand as “konsultant” van ASA aangestel is nadat hy (Sindani) aangedui
het dat hy Chuene as ASA-president gaan teenstaan.
Sindani, ’n eertydse vriend van Chuene, het hom toe nie teengestaan nie.
Bogenoemde
is twee van die altesame 16 aanklagte waarop Chuene eersdaags voor ’n
arbitrasieverhoor van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en
Olimpiese Komitee (Saskok) moet verskyn nadat ’n forensiese ondersoek
Chuene van “oneerlikheid, bedrog en wangedrag” tydens sy bewind
beskuldig het.
Saam met Chuene is nóg vier van sy destydse
personeellede ná die ondersoek gelas om op verskeie aanklagte voor
Saskok te verskyn.
Chuene en die hele voormalige ASA-raad is deur
Saskok geskors, hangende die uitslag van die arbitrasie-verhore. ASA
het gister in Johannesburg ’n nuwe raad van agt lede verkies. Hiermee is
die tussentydse termyn van Ray Mali as ASA-administrateur beëindig.
In
die vierde aanklag teen Chuene word gesê dat hy sedert omtrent 2006 in
’n “intieme verhouding” was met Bogatsu, ’n ASA-personeellid, dat die
verhouding “onwelvoeglik en ongepas” was en die kantoor van die
ASA-president en ASA self “oneer aangedoen het”.
Die aanklag lui
verder: “Gedurende 2007 het u veroorsaak dat ASA ’n kontrak aangegaan
het met Thabile Mokgoatjana, ’n personeellid van ASA, of
alternatiewelik was u deel van die sluiting van ’n kontrak waarvolgens
ASA R82 654 betaal het aan me. Mokgoatjana in ruil vir haar bedanking
van ASA sowel as haar stilswye, nadat sy teksboodskappe van ’n intieme
en/of seksuele aard ontdek het vanaf u selfoon na die selfoon van Bogatsu, wie se selfoon later deur Mokgoatjana gebruik is nadat
laasgenoemde se foon beskadig is.”
In die klagstaat word Chuene
ook daarvan aangekla dat hy ’n bedrag van $20 000 (sowat R143 330)
“gelas en ontvang het, of alternatiewelik gelas het om deur Sindani
gebruik te word om in Japan te gebruik om u kans te verbeter om tot die
Raad van die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF)”
verkies te word.
In ’n aanklag teen Bogatsu word gesê dat me.
Linda Ferns, toe ASA se algemene bestuurder, aan haar dié $20 000 gegee
het vir Sindani se Japan-ekspedisie. Bogatsu het dié bedrag “nooit aan
Sindani gegee nie en ook nooit verklaar wat u met die bedrag gemaak het
nie”.
- Rapport