Chuene betaal R1 vir sy Merc
2010-02-24 09:03
Johannesburg - Die voormalige hoof van Atletiek Suid-Afrika (ASA), Leonard Chuene, het in 2004 'n E-klas Mercedes-Benz vir R1 by dié omstrede organisasie gekoop, berig eNews.
Dié onthulling is aan die uitsaaier gemaak tydens 'n onderhoud met Ray Mali, administrateur van ASA.
Mali het gesê hy het dit ontdek toe hy deur die notules van vorige ASA-vergaderings gaan. Hy het ook uitgevind dat drie ander motors vir R1 elk aan ASA-beamptes verkoop is.
Die voormalige raad van ASA is afgedank vir beweerde finansiële wanbestuur en hul hantering van die herrie rondom die atleet Caster Semenya se geslag.
"Dis net 'n transaksie deur die raad. Sommige lede van die raad het net opgestaan en voorgestel dat die motors aan Leonard en ander individue verkoop word," het Mali gesê.
Mali het ook vasgestel dat ASA steeds die lisensiëring van die motor in Chuene se besit betaal en hy ondersoek nou die moontlikheid dat die motor onreëlmatig aan hom verkoop is.
Chuene se prokureurs het in reaksie op die bewerings gesê die motor is as deel van sy vergoedingspakket vir hom gegee.
– Sapa