Chrysler-baas kritiek ná rooftog in Jhb
2013-02-13 09:21
Johannesburg – Trent Barcroft, hoof- uitvoerende beampte van die voertuigvervaardiger Daimler Chrysler, is in 'n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy tydens 'n rooftog in Midrand geskiet is, het die polisie in Gauteng gesê.
Barcroft, 'n Amerikaner, en sy vrou, Cathy, was Dinsdag op pad huis toe, toe die rowers hulle Dinsdag aangeval het, berig Eyewitness News.
Chrysler Suid-Afrika het gesê Barcroft en sy vrou is vermoedelik agtervolg nadat hulle gaan inkopies doen het.
'n Voertuig het hulle van agter getref en toe Barcroft uit sy motor klim om besonderhede met die ander bestuurder uit te ruil, is hy in die maag geskiet.
Barcroft se horlosie, beursie en selfoon is gesteel.
"Hy was saam met sy vrou en sy is ongedeerd. Hy is in die maag geskiet. Die aanvallers het juwele, selfone en die vrou se handsak gesteel," het kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy word in die intensiewe sorgeenheid van die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg behandel.
Chrysler Suid-Afrika het in 'n verklaring gesê Barcroft sal na verwagting ten volle herstel.
Niemand is in hegtenis geneem nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA