Christene kap Woolies oor godsdiens
2010-10-20 07:30
Johannesburg - Christene dreig om die winkelgroep Woolworths te boikot nadat hy besluit het om onder meer Christelike tydskrifte van sy winkelrakke te verwyder en dit nie langer te verkoop nie.
Dit beteken dat tydskrifte soos Lig, Juig, Joy en Lééf nie langer in Woolworths-winkels te koop sal wees nie.
Jean Oosthuizen, webmeester van die gespreksforum Kletsklerk, het Dinsdag op die webblad www.koerant.co.za geskryf ontstoke lesers van godsdienstige tydskrifte dreig om Woolworths te boikot totdat dié besluit herroep word.
’n Herrie oor die besluit woed ook op Facebook.
“Persoonlik gee van die tydskrifte my ook ’n yslike pyn, maar ek dink dit is verkeerd dat alle godsdienstige tydskrifte nou van die rakke verwyder moet word. Dan moet Woolworths alle ander tydskrifte met ’n kleiner sirkulasiesyfer ook van die rakke af haal,” het Oosthuizen gesê. Hy is ook die nuusredakteur van Kerkbode.
Adri-Louise van Renen, redakteur van Lig, het gister aan Die Burger bevestig dat sy oor die besluit van Woolworths ingelig is nadat hulle ’n e-pos van hul verspreider ontvang het.
“Ek wil nie die saak nou in die media dryf nie. Ek wil dit met Woolworths probeer uitklaar,” het sy gesê.
Van Renen skryf in ’n brief aan haar lesers dat Woolworths ’n “bestuursbesluit” geneem het om nie langer enige godsdienstige tydskrifte te verkoop nie.
“Alle sodanige tydskrifte word onmiddellik van hul winkelrakke verwyder. Die besluit lui soos volg: ‘Woolworths het ’n sakebesluit geneem om nie langer enige godsdienste tydskrifte in voorraad te hou nie, met onmiddellike effek. Ons het reeds al ons winkels opdrag gegee om godsdienstige titels van die winkelrakke te verwyder,’” lui Van Renen se brief.
“Waarom sal Woolworths alle godsdienstige tydskrifte van sy rakke haal, maar hy benut die bemarkingsgeleentheid van godsdienstige dae soos Kersfees en Paasfees tot sy eie voordeel?” het Van Renen gevra.
In antwoord op ’n vraag van ’n klant op Woolworths se Facebook-muur het ’n woordvoerder van die winkelgroep bloot gesê Woolworths het sy totale tydskrifkatalogus hersien en gerasionaliseer.
Simon Susman, hoofbeampte van Woolworths, het op navraag van Die Burger gesê dit is strydig met die winkelgroep se beleid om godsdienstige en politieke tydskrifte te verkoop.
“Ons hersien tans alle tydskrifte wat Woolworths te koop aanbied. Ons sal voortgaan om tydskrifte van ons rakke te verwyder wat nie gewild onder klante is nie.
“Ons probeer om geen gemeenskap aanstoot te gee deur die beleid nie,” het Susman gesê.
- Die Burger