Christene hou optog teen 'aanval' op hul geloof
2012-11-08 13:38
Kaapstad – Die African Christian Democratic Party hou die komende naweek ‘n optog teen ‘n “aanval op die Christelike geloof.”
Die ACDP het in ‘n verklaring gesê hy nooi alle Suid-Afrikaners, veral Christene, uit om Saterdag by die party se betoging aan te sluit.
“Toe gebed by ons skole verwyder is, het Christene niks gesê nie. Toe hemelvaartdag as ‘n openbare vakansiedag verwyder is, het Christene dit nie beveg nie,” het Kenneth Meshoe, leier van die party, in die verklaring gesê.
“Nou het die kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe voorgestel dat rastafariërs toegelaat moet word om tot 100 g dagga by hulle te hê, sonder om vervolg te word.”
Die party sê dis dieselfde kommissie wat verhore hou, "wat tot die verwydering van Kersfees en Goeie Vrydag as openbare vakansiedae kan lei."
Meshoe het bygevoeg dis tyd dat Christene “opstaan en ‘nee’ sê vir subtiele aanvalle op ons geloof.”
Die optog sal Saterdag om 10:00 by Constitution Hill in Braamfontein, Johannesburg, begin.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA