Chinese burger weier om vingerafdrukke te neem
2011-12-22 21:13
Kaapstad – 'n Chinese burger wat vir die onwettige besit van olifantstande in hegtenis geneem is weier om sy vingerafdrukke te laat neem omdat hy onskuldig wil pleit, het die Kaapse landdroshof Donderdag gehoor.
Xing Xieny (51) en Xiong Changsen (41) is Dinsdag in Table View, Kaapstad gearresteer.
"Ek wil nie my vingerafdrukke laat neem nie," het Xieny aan landdros Frederick Louw gesê.
Die rede hoekom hy weier om sy vingerafdrukke te laat neem is omdat hy skuld gaan ontken.
Die mans is in hegtenis geneem nadat die Valke inligting vanaf die publiek ontvang het oor 'n slegte reuk wat van 'n luukse huis afkomstig is en ook "buitengewone aktiwiteite" wat in 'n parkeerterrein plaasvind.
Nadat die polisie ondersoek ingestel het, het hulle mense gevind wat besig is om olifantstande in kleiner stukkies te sny glo om juweliersware te maak.
Louw het aan Xieny gesê hy sal nie vir borgtog kan aansoek doen nie omdat hy weier om sy vingerafdrukke te laat neem.
Die staat kan nou ook nie bepaal of hy wettig in die land is nie.
Die saak is tot volgende Donderdag uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA