Chinese bordeel-bestuurders moet hof toe
2011-05-17 20:04
Kaapstad – Twee Chinese vroue wat glo ‘n bordeel in Goodwood bestuur en jong vroue van China na Suid-Afrika gelok het, sal in die Parow-streekshof verhoor word.
Hulle word aangekla van die bestuur van die bordeel, sowel as mensehandel. Aangesien die aanklagte seksuele oortredings insluit, mag hul name nie bekendgemaak word voordat hulle pleit nie.
Die vroue het Dinsdag in die landdroshof in Goodwood verskyn. Die saak is tot 2 Junie uitgestel vir ‘n verhoordatum.
Hulle is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Die vroue word daarvan aangekla dat hulle jong Chinese vroue na Suid-Afrika gelok het, met vals beloftes van werk met salarisse van tot R50 000 ‘n maand.
Die vroue is in Februarie op die perseel in Goodwood in hegtenis geneem ná ‘n advertensie in ‘n gemeenskapskoerant wat tot ‘n ondersoek gelei het.
Lede van die polisie en die taakspan teen mensehandel het die huis deursoek. Twee Chinese vroue, onderskeidelik 25 en 29 jaar oud, wat gedwing is om as prostitute te werk, is gered.
Die twee vroue is na ‘n veilige vesting geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA