Chaos voor Survivor-man in hof verskyn
2010-03-17 09:53
Johannesburg - Gevangenes wat veronderstel is om ook Woensdag by die Protea-landdroshof in Soweto te verskyn, het vroegoggend die hip hop-musikant, Jub Jub gewaarsku om “versigtig te wees”.
"Ayeye, Jub Jub, ayeye (‘pasop' in isiZulu)," het hulle vanuit ’n vangwa geskree wat by die hof aangekom het.
Molemo Maarohanye (Jub Jub) en Themba Tshabalala verskyn na verwagting Woensdag in die hof op vier aanklagte van moord.
Talle lede van die publiek het al vroeg buite die hof begin saamdrom, asook lede van die polisie om enige ongewenste voorvalle te voorkom.
Getalle het egter vinnig begin groei.
Insp. Kay Makhubele het vroeër Woensdagoggend aan Sapa gesê hulle verwag duisende mense by die hof.
Meer as 50 polisiebeamptes en polisiehonde monitor die terrein.
Strate om die hof is ook al teen 08:00 toegemaak.
Straatverkopers het selfs die geleentheid aangegryp om geld uit die besoekers te maak.
Chaos bars los:
Betogers het egter kort na hul aankoms by die hof oproerig begin raak en polisievoertuie begin slaan en die Protea-landdroshof bestorm in ’n poging om die hof binne te kom.
Die polisiebeamptes op die toneel het hulle gewere met rubberkoeëls begin laai en waterkanonne begin voorberei soos die skare al meer aggressief geraak het. Hulle het die hekke buite die hof probeer oop forseer.
Die polisie het teen die hekke binne die hof-terrein gaan staan om ‘n ineenstorting te voorkom.
Die gebied was met geel misdaadtoneel-lint afgebaken en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ’n menslike versperring begin vorm.
"Thula, Mama (Moenie huil nie, Mama)," het betogers aan familielede van die vier kinders wat gesterf het, gesing.
Baie van die betogers is hoërskoolleerlinge met hul uniforms aan, terwyl sommige laerskoolleerlinge met stokke in die hand opgedaag het.
“Geen borgtog vir Jub Jub, einde van storie,” het een van die plakkate gelees.
-Sapa