Chaos toe taxi-geweld uitbreek
2010-10-15 12:08
Johannesburg – Vier mense is in hegtenis geneem, twee pendelaars is beseer, twee taxi’s is aan die brand gesteek en ‘n bestuurder is beseer tydens gewelddadige botsings tussen twee mededingende taxi-assosiasies in Wierdabrug, het die Gautengse polisie Vrydag gesê.
Volgens kapt. Katlego Mogale het die geweld Donderdagoggend begin.
Die polisie het die geweld teen Vrydag nog gemonitor.
Twee pendelaars het ligte beserings opgedoen toe lede van beide assosiasies mekaar met klippe begin gooi het.
“Die polisie het die geweld onder beheer gebring en als het gedurende die dag weer normaal geraak,” het Mogale gesê.
Die twee assosiasies het teen die middag tydens spitsuur weer gewelddadig geraak, het hy gesê.
Twee leë taxi’s is aan die brand gesteek en ‘n taxi-bestuurder is op die R55 op pad na Laudium geskiet.
Hy is gewond en na ‘n hospitaal geneem.
Vier mense is in hegtenis geneem vir die beskadiging van eiendom en sal eersdaags in die hof verskyn.
Volgens Mogale is die polisie steeds op die toneel om die situasie onder beheer te hou.
Die base van beide assosiasies het Vrydag ‘n vergadering met die polisie gehou om die probleem op te los.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA