Chaos duur voort ná brand by hof
2012-10-23 16:31
Johannesburg – Chaos en frustrasie duur voort by die Polokwane-landdroshof in Limpopo, omdat mense nie weet waar hul sake aangehoor word nie, berig die SABC.
Die verwarring kom ná 'n brand Vrydag by die hof uitgebreek het.
Sommige sake na die hooggeregshof in Limpopo verskuif, waar mense ure lank moes wag voor 'n hofsaal beskikbaar is.
'n Beampte van die departement van justisie het 'n vroeëre berig ontken dat brandblussers en die sproeierstelsel buite werking was, berig Sapa.
"Dit is nie waar nie, want die persoon wat daar gewerk het, het die rook gesien en kon nie betyds by die brandblusser uitkom nie," het Mthunzi Mhaga, woordvoerder, gesê.
Hofbeamptes het aan Beeld gesê die brand het baie vinnig versprei en hulle vermoed die brand het in 'n kantoor ontstaan.
Mhaga het gesê die bronne in die koerant wou die regering in 'n swak lig stel.
"Sover ons weet, werk die brandblussers en die sproeierstelsel."
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê die afgelope naweek se reën het forensiese ondersoeke na die oorsaak van die brand vertraag.
Ondersoekbeamptes het Maandag deur die puin gesif vir leidrade, het Otto gesê.
Al die rekenaarstelsels, dokumente en klanktoerusting is in die brand verwoes.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter