Chaos by skole, howe en hospitale
2010-08-19 06:39
Die Burger
Kaapstad - Skole, hospitale en howe word Donderdag wéér deur erge ontwrigting in die gesig gestaar.
Vakbonde het gewaarsku die staatsdiensstaking waarin die land sedert Woensdag vasgevang is, kan vandag verder uitbrei.
Nie die regering óf vakbonde wou Woensdag bes gee om onderskeidelik hul salarisaanbod en teeneise aan te pas nie.
Die staat se vermoë om salarisse en ’n behuisingsubsidie verder te verhoog, is “uitgeput”, het die minister vir die staatsdiens en administrasie, Richard Baloyi, Woensdag in die parlement aangevoer.
Hy wou hom op ’n nuuskonferensie egter nie laat betrek by ’n bespreking dat die regering se besteding aan luukshede die laaste ruk straks vakbonde se vasbeslotenheid aangevuur het nie.
Die staat het Woensdag bly staan by sy finale aanbod van ’n 7%-salarisverhoging en R700 vir ’n behuisingstoelae.
Volgens Baloyi gaan dié hersiene aanbod die regering R5 miljard kos waarvoor nié begroot is nie.
“Ons het nie net die koevert bloot leeggemaak nie, ons het hom oopgeskeur.
“Môreoggend (vanoggend) in Pretoria, voor 10:00, is my opdrag aan die direkteur-generaal dat ek niks anders verwag as sy ink op papier om die aanbod te aanvaar nie,” het Baloyi gesê.
Die vakverbond Cosatu en die Onafhanklike Arbeidskoukus (ILC) het Dinsdag aangekondig die staking gaan voort.
Hulle eis ’n salarisverhoging van 8,6% en ’n behuisingstoelae van R1000. Cosatu maak aanspraak op ’n ledetal van 1,3miljoen staatsdienswerkers en die ILC op sowat 460000.
Intussen het die Vereniging vir Staatsamptenare (PSA), wat 200000 werkers verteenwoordig, ook aangekondig hy gaan van vandag af aan die staking deelneem, berig Sapa.
Altesaam 34 Wes-Kaapse skole was gister gesluit en 4379 (13,7%) onderwysers het gestaak. Talle leerders van skole in die Kaapse metropool het gisteroggend in die strate rondgedwaal.
Verskeie gerugte van intimidasie en geweld het die ronde gedoen en teen gistermiddag is 13 voorvalle by die Wes-Kaapse onderwysdepartement aangemeld.
Geen werknemers by hospitale en ander openbare gesondheidsinstellings het gister aan die staking deelgeneem nie.
Nehawu en Denosa dreig egter vandag met ’n volskaalse staking. “Ons begin om 07:00 by al die instellings waar ons lede het. Ons sal ons lede keer om in te gaan en dié wat binne is, uitbring.”
Bongani Lose, provinsiale sekretaris van Denosa, het gesê daar sal “genoeg” werknemers in die waakeenhede, die kraamsale, teaters en by die ongevalle-afdelings wees sodat geen lewe bedreig word nie.
Nehawu verteenwoordig sowat 8000 portiers, verpleërs, administratiewe en algemene personeellede in die provinsie en Denosa sowat 7000 verpleërs.
Plattelandse howe, soos Citrusdal en Piketberg, het nie gister aan die staking deelgeneem nie, maar die Kaapse landdros- en streekshof het wel. Tolke en stenograwe het om 10:30 buite die hof betoog.
Motlatsi Tsubane, verteenwoordiger van Nehawu, het gesê tolke en stenograwe sal staak totdat daar aan hul vereistes voldoen is.
* Verslagspan:Anesca Smith, Aldi Schoeman, Jana Breytenbach en Marelize Potgieter.
– Is jy op die een of ander manier deur die stakings geraak? Het jy betogers afgeneem, of het jy 'n storie om te vertel wat verband hou met die stakings? Stuur jou foto's aan ons by fotos@nuus24.com, of stuur 'n storie oor jou staking-ervaring na terugvoer@nuus24.com.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger