Chaos by Krugerwildtuin weens vloede
2012-01-18 13:53
Mbombela – Die Suid-Afrikaanse nasionale parke (Sanparke) het Woensdag ‘n dringende waarskuwing uitgereik dat sommige hekke en paaie in die Kruger-gebied weens swaar reënbuie gesluit is.
Luidens die verklaring is die ingangshekke by die Crocodile Bridge en Giriyondo-grenspos gesluit.
Die pad tussen Letaba en Olifants is ontoeganklik.
Sanparke sê alle grondpaaie en lae brûe moet vermy word.
Volgens Sanparke is die Biyamiti-boskamp, Shimuwini-boskamp, Talamati-boskamp en Tshokwane-piekniekarea ook gesluit.
Sanparke sê die pad tussen Letaba en Phalaborwa is onder water en die Letaba-kamp is sonder elektrisiteit gelaat aangesien die kamer waarin die kragopwekker is, ook oorstroom het.
Beeld berig noodspanne van Phalaborwa en Polokwane is onderweg om mense wat in agt kritiese gebiede rondom Hoedspruit – sommige in bome – vasgekeer is, te gaan help.
Sedert ’n vloedwaarskuwing in Mpumalanga uitgereik is nadat swaar reën sedert Dinsdagnag oor die Laeveld uitgesak het, is Hoedspruit reeds heeltemal van die buitewêreld afgesny.
Tussen 75 mm en 150 mm reën het van Maandag middernag tot Dinsdagaand om 20:00 in dié gebied geval, het die dagblad berig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24