Chanelle: 'Dit was amateurs'
2011-11-21 07:03
Hilda Fourie – ’n Skuldige gewete het daartoe gelei dat Chanélle Henning se vermeende moordenaars – glo “ ’n klomp amateurs” – een vir een vasgetrek is.
Die polisie kort nog net die baasbrein om almal wat na bewering by dié moordnetwerk betrokke was, agter slot en grendel te hê.
Dié wat reeds gearresteer is, moet Woensdag weer in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Bronne na aan die ondersoek was dit gister eens die groot fout wat die baasbrein agter Henning (26) se moord begaan het, was om amateurs te gebruik.
“Hierdie is ’n klomp amateurs wat iets probeer doen het en in die proses ’n klomp foute gemaak het,” het ’n bron gesê.
“Hulle het twee dwelm-afhanklikes gekry om die job te doen. En hulle is nie stabiel nie.
“Toe Doepie (konst. Gerhardus du Plessis) se gewete hom begin pla, het alles skeefgeloop.”
Nog voordat Henning voorverlede Dinsdag voor haar seun, Benjamin (4), se kleuterskool in Faerie Glen, in die ooste van Pretoria, vermoor is, wou Du Plessis glo al kop uittrek.
Hy is blykbaar gedreig dat sy vrou, kinders en hond doodgemaak sal word as hy nie aan die moord deelneem nie.
Dinsdagoggend het hy glo die vuurwapen in sy hand geneem en saam met Willem (Pike) Pieterse op sy motorfiets geklim.
Hulle het voor die kleuterskool gaan wag. Oomblikke nadat Henning vir Benjamin afgelaai het, het Pieterse na bewering verby haar gery en Du Plessis het glo die sneller getrek.
’n Week later “kon Doepie net nie meer nie”, het ’n bron gesê.
Hy het ’n kollega by die Hercules-polisiekantoor, waar hy vroeër as ’n speurder gewerk het, gebel en met die sak patats vorendag gekom.
Dié vriend het die Valke se taktiese operasiebeheer-afdeling (Toms) verlede Maandag gebel.
Du Plessis het sy aandeel in die moord erken en die polisie het die ander beskuldigdes een vir een begin oppik.
Teen Dinsdagmiddag was Ambrose Monye (37), ’n voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, Preshan Singh (24) en Deon Schoeman (20) agter tralies. Schoeman het glo die vuurwapen gesteel. Dié vuurwapen het blykbaar in Singh se hande beland wat dit glo aan die sluipmoordenaars verskaf het.
Monye het na bewering vir Pieterse (42) en Du Plessis (30), wat albei glo dwelmverslaafdes is, gekry om die sluipmoord uit te voer.
Pieterse is Woensdagaand in die kroeg Guiseppe’s in Despatch in die Oos-Kaap vasgetrek.
André Gouws (47), ’n goeie vriend van Henning se vervreemde man, Nico Henning, is Woensdagoggend by die Milly’s-padstal naby Machadodorp in hegtenis geneem.
Gouws, wat glo die skakel tussen die baasbrein en Monye is, “is die enigste professionele een van die lot”, het ’n bron gesê.
Na verneem word ondersoek die polisie Gouws se beweerde betrokkenheid by nóg sluipmoorde wat skeefgeloop het. “Hierdie is nie professionele ouens nie,” het ’n ander bron gesê.
“Die ouens wat hulle gekry het, het ná die moord ’n gewete begin kry waarmee hulle net nie kon saamleef nie.”
Brig. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is nog besig met die ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld