Centurion-jaagtog 'soos Hollywood-fliek'
2012-10-08 09:25
Johannesburg – Twee veiligheidswagte wat by ‘n vulstasie stilgehou het om koffie te koop, het op die ou end ‘n bende agternagesit en al vier die rowers gewond, het ‘n koerant berig.
Beeld berig die veiligheidswagte het die skietery en jaagtog soos “iets uit ‘n Hollywood-aksiefliek” beskryf.
Jaco du Toit (33), ‘n veiligheidswag van Monitor Net, en sy vriend, Darron de Lange (30), het Sondagoggend om 07:00 by ‘n Sasol-vulstasie in Centurion stilgehou om koffie te koop.
“Werknemers van die vulstasie het na ons gehardloop en gesê hulle is nou net deur vier mans in ‘n silwer Toyota Avanza beroof,” het Du Toit aan die dagblad gesê.
Die twee wagte het weggejaag om die wegkommotor agterna te sit, wat op die Ou Johannesburgpad opgespoor is.
Die rowers het teen 190 km/h gejaag en op die twee wagte begin skiet.
‘n Skietery het uitgebreek, waartydens een van die rowers geskiet en gewond is. Die wegkommotor se linker agterwiel is ook getref.
Daarna het die Avanza sowat 2 m hoog in die lug teenaan die aankomende verkeersbaan gerol.
Volgens Du Toit het die rowers wat op die agterste sitplek gesit het en uit die Avanza geslinger is, op die grond geval, opgestaan en verder geskiet.
Een man wat raak geskiet is, het weggehardloop en die ander drie is deur paramedici behandel.
Polisiebeamptes het die voorval bevestig en gesê een van die verdagtes is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA