Cele tjoepstil ná koerant ‘bewyse’ publiseer
2011-07-09 08:00
Kaapstad – Dit blyk die polisie se elite-eenheid, die Valke, lei die beweerde ondersoek teen adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB).
The Star het Vrydag ’n vertroulike polisiedokument gepubliseer waarin bevestig word die eenheid teen ernstige ekonomiese misdade, ’n afdeling van die Valke, het teen 1 April vanjaar Madonsela se sakebelange ondersoek.
Die saaknommer en die naam van die persoon wat die dokument opgestel het, is uitgevee en dit maak ook nie melding van enige planne om Madonsela in hegtenis te neem nie.
Die jongste verwikkeling in die Madonsela-sage het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, en Nathi Mthethwa, minister van polisie, nogtans in ’n knyptang nadat albei die afgelope week heftig ontken het dat só ’n ondersoek bestaan of dat hulle daarvan bewus is.
Nie een van Cele se woordvoerders of Mthethwa was Vrydag egter bereid om die egtheid van die dokument te bevestig of te ontken nie. Dít nadat Mthethwa “enigiemand met inligting, spesifiek die Independent-groep” (wat The Star besit), ’n dag tevore uitgedaag het om die bewerings met bewyse te staaf.
Kol. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê hy kan geen kommentaar lewer nie. Hy het ook nie ’n antwoord gehad op die vraag wie die Valke opdrag gegee het om Madonsela te ondersoek nie. “Ek weet niks daarvan (die dokument) nie. Ons is besig om dit na te vors en uit te vind wat aangaan.”
Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder, het nie sy telefoon geantwoord of op navrae gereageer nie.
Jeff Radebe, minister van justisie, het Donderdag gesê ’n departementele ondersoek na Madonsela se sakebelange is onlangs afgehandel en dat bevind is sy het geen reëls tydens haar ampstermyn by die Regshervormingskommissie oortree nie.
Madonsela se navorsingsmaatskappy, Waweth, het in 2006 en 2007 drie kontrakte ter waarde van ’n paar duisend rand vir die departement van justisie uitgevoer terwyl sy ’n kommissaris by die Regshervormingskommissie was.
Madonsela het vroeër vandeesweek aangevoer sy het haar sakebelange destyds verklaar en Radebe het Donderdag in ’n verklaring bevestig: “Dit was nooit ’n geheim nie.”
“Die ondersoek is afgesluit. Ek wil ook benadruk dat die departement dié kwessie nooit in enige stadium elders vir ’n strafregtelike ondersoek aangemeld het nie,” het Radebe gesê. Volgens hom is die bewerings teen Madonsela “betreurenswaardig en verontrustend”.
Intussen het die vakverbond Cosatu en die F.W. de Klerk-stigting hulle ook by Madonsela geskaar en aangevoer die jongste gebeure mag die OB se ondersoeke na korrupsie en die misbruik van staatsgeld nie ontspoor nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger