Cele swyg vir eers oor OB-verslag
2011-07-20 12:06
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het wéér sy mediakonferensie oor adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, se verslag oor die omstrede polisiehuurkontrakte uitgestel.
Dit is die tweede keer dat dié mediakonferensie gekanselleer is.
"Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat die uitstel en kansellasie van die mediakonferensie veroorsaak het," het brig. Sally de Beer, Cele se woordvoerder, gesê.
"Dit is met spyt dat die nasionale mediasentrum van die Suid-Afrikaanse Polisiediens lede van die nuusmedia inlig dat die mediakonferensie oor die Openbare Beskermer se verslag wat op Donderdag 21 Julie deur die nasionale polisiehoof, genl. Bheki Cele, gehou sou word, uitgestel is," het De Beer in 'n verklaring gesê.
De Beer het gesê daar is geen redes verskaf vir die kansellasie nie.
Cele sou aanvanklik die media Dinsdag oor die verslag toespreek, maar het toe die mediakonferensie "weens onvoorsiene omstandighede" uitgestel.
Madonsela het verlede week Cele se rol in twee omstrede huurkontrakte vir die polisie in 'n verslag getiteld "Against the Rules Too" bevraagteken.
Dít hou verband met die huur van die Transnet-gebou vir meer as drie keer die markwaarde van die gebou.
Madonsela het Cele skuldig bevind aan wangedrag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA