Cele stel Mdluli voor ultimatum
2011-08-28 12:35
Johannesburg – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het lt.genl. Richard Mdluli, hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, gevra om redes aan te voer waarom hy nie afgedank moet word nie, het die Sunday Independent berig.
Dié koerant is in besit van 'n vertroulike brief, gedateer 20 Augustus, waarin hy Mdluli sewe dae gee om te verduidelik hoekom hy in diens van die polisie moet bly.
Cele het glo in die brief gesê dit is ongewens vir Mdluli om in diens te bly van die polisie en dat dit 'n negatiewe indruk skep wanneer sy rang en die aard van die aanklag in ag geneem word.
Mdluli (55), lt.kol. Mtunziomhle Mtunzi (52), kol. Nkosana Ximba (38) en ao. Samuel Dlomo (49) staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, intimidasie, drie van menseroof, twee van aanranding met die opset om ernstig te beseer en sameswering om moord te pleeg.
Mdluli word ook van dwarsboming van die gereg aangekla.
Daar word beweer Mdluli was in ’n liefdesdriehoek betrokke wat in 1999 tot die moord op Oupa Ramogibe in Vosloorus aan die Oos-Rand gelei het.
Hy is uit op borgtog van R20 000.
Kol. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê hy is nie bewus van die brief nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA