Cele se peperduur vliegrekening
2011-07-26 17:03
Kaapstad – Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het minstens R1,498 miljoen spandeer op nasionale en internasionale vlugte met die polisie se straler, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, Dinsdag in reaksie op 'n parlementêre vraag van die DA gesê.
Mthethwa het in 'n geskrewe reaksie op die vraag van Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, gesê Cele het teen 30 Mei vanjaar die straler 47 keer gebruik.
Hoewel die meeste vlugte plaaslik was, het hy ook na Malawi, Angola, Namibië en Zimbabwe gevlieg.
Mthethwa het nie die doel van dié reise bekend gemaak nie en ook nie waarom Cele nie 'n kommersiële lugredery gebruik het nie.
Kohler-Barnard het gesê sy weet nie watter bewyse pres. Jacob Zuma nog soek voor Cele afgedank word nie.
In minder as 'n maand het Cele 'n rekening van R150 000 op drie aparte vlugte van OR Tambo Internasionale Lughawe na Kaapstad opgejaag.
Drie soortgelyke besigheidsklas-vlugte met die Suid-Afrikaanse Lugdiens sou minder as 'n tiende van dié bedrag kos.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA