Cele se kop geëis
2011-02-22 23:00
Johannesburg - Die nasionale polisiehoof, genl. Bheki Cele en die minister van openbare werke, Gwen Mahlangu-Nkabinde, moet dadelik afgedank word, het die Vryheidsfront Plus (VF+) Dinsdag in ‘n persverklaring gesê.
“Dit is duidelik uit die verslag van die openbare beskermer dat die tenderprosedures nie korrek gevolg is nie, dat verskeie wetgewing oortree is en dat daar nie ‘n noodsaaklikheid bestaan vir die huur van die Sanlam Middestad-gebou vir R500 miljoen oor tien jaar nie.
“Dit wil voorkom asof Cele in die voetspore van sy voorganger, Jackie Selebi, wil volg,” het Pieter Groenewald, wat die klag by die openbare beskermer ingedien het en hoofwoordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus, gesê.
“As pres. Zuma ernstig is oor sy uitlatings dat korrupsie uitgeroei sal word, moet hy beide die kommissaris en minister afdank, want hy stel beide aan.
“Indien hy dit nie doen nie maak hy ‘n klug van skoon administrasie en bevorder korrupsie. Veral die optrede van die minister van openbare werke om voort te gaan met die sluit van die huurkontrak, ten spyte van ‘n interne komitee en senior advokaat se advies om nie voort te gaan nie, skep die indruk van korrupsie,” het Groenewald gesê.
Na bewering sal die VF+ na behoorlike bestudering van die verslag besluit of strafregtelike klagtes ingedien sal word.
Volg Nuus24 op Twitter.