Cele prys KZN-polisie
2010-01-22 21:49
Johannesburg - Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het die KwaZulu-Natalse polisie geprys nadat hulle drie gewapende rowers doodgeskiet het.
“Die feit dat hulle doodgeskiet is wys dat die dae van kriminele wat hulle bose maniere wil uithaal sonder om gestraf te word, verby is,” het Cele gesê.
Vroeg Vrydagoggend het die polisie inligting ontvang dat vier mans oppad was om ‘n misdaad te pleeg.
Die polisie het ‘n motor wat die beskrywing gepas het, ingehaal en die bestuurder beveel om te stop. Die insittendes het uit die motor geklim en op die polisie begin skiet.
Die polisie het teruggeskiet en drie van die gewapende mans is noodlottig gewond. Die vierde krimineel het in die plantasies ingehardloop.
Twee van die oorledenes is geïdentifiseer as verdagtes in ses moorde, wat op Kersdag gepleeg is.
Die derde krimineel wat noodlottig gewond is, is ‘n verdagte in ‘n gewapende rooftog sowel as ‘n motorkaping.
- Sapa