‘Cele-opvolger’ plunder glo, maar bly dalk skotvry
2012-03-18 07:10
Paddy Harper In Durban en Adriaan Basson In Johannesburg
Suid-Afrika se volgende moontlike polisiehoof word van plundery en wanbestuur in die misdaadintelligensie-eenheid beskuldig.
Tog sal lt.genl. Richard Mdluli waarskynlik nie vervolg word nie omdat die Valke, wat die saak oopgekrap het, opdrag gegee is om alle ondersoeke hierna te staak.
’n Geheime polisieverslag wys op die omvang van Mdluli se beweerde wandade sedert pres. Jacob Zuma hom in Julie 2009 as die polisie se hoofspioen aangestel het. Die verslag is in die besit van City Press, Rapport se susterskoerant.
Maj.genls. Chris de Kock en Mark Hankel het die verslag in November aan adv. Faith Radebe, die inspekteur-generaal van intelligensie (IGI), oorhandig.
Mdluli is verlede jaar gearresteer op twee aanklagte van moord en bedrog en is daarna geskors.
Die klagte is later teruggetrek in wat beskou word as ’n poging van senior politici om seker te maak dat Mdluli genl. Bheki Cele, geskorste polisiehoof, se pos kan vul.
Mdluli word gereeld in die polisie se binnekringe as Cele se opvolger genoem. Dit blyk dat Zuma Mdluli steun, deels danksy die omstrede intelligensieverslag waarin mnr. Tokyo Sexwale, minister van behuising, en ander ANC-politici daarvan beskuldig word dat hulle Zuma as ANC-leier wil onttroon.
Die Mdluli-verslag is aan Radebe gegee net vier dae nadat De Kock en Hankel haar daarvan ingelig het. Dit onthul onder meer dat:
* Familie van Mdluli onregmatig aangestel is;
* Mdluli staatsvoertuie misbruik het;
* Sy vrou, toe nog nie ’n polisiebeampte nie, hom met belastingbetalersgeld op ’n buitelandse besoek vergesel het;
* ’n Groepie intelligensie-operateurs, onder wie Mdluli, meer as 50 reise vir hulle en hul familie op staatskoste bespreek het; en
* Die polisie verskeie “veilige huise” (vir getuiebeskermingsprogramme) vir Mdluli en sy familie gehuur het.
De Kock en Hankel het ook geskryf misdaadintelligensie probeer die ondersoek ontspoor.
Sowat vier maande nadat die verslag ingedien is, het lt.genl. Anwar Dramat, Valke-bevelvoerder, alle ondersoeke na korrupsie by misdaadintelligensie stopgesit.
City Press verneem die opdrag het gekom van lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende polisiehoof.
Kol. McIntosh Polela, Dramat se woordvoerder, wou nie sê waarom die ondersoeke gestaak is nie.
Brig. Lindela Mashigo, Mkhwanazi se woordvoerder, het net gevra dat die media die herstruktureringsproses in misdaadintelligensie respekteer.
Mdluli se regsverteenwoordiger, Ike Motloung, het gesê dis jammer “elemente in die polisie en hul kohorte in die media” het so laag gedaal om nie meer te kan onderskei wat intelligensie is en wat nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport