Cele onthou nie 'skiet om dood te maak'
2012-02-06 14:00
Johannesburg – Die geskorste nasionale polisiekommissaris Bheki Cele het aan die hooggeregshof in Johannesburg gesê hy kan nie onthou dat hy aan polisiebeamptes gesê het om te “skiet om dood te maak” nie, het The Sowetan Maandag berig.
“Ek kan onthou dat ek aan die polisie gesê het om dodelike mag te gebruik wanneer hulle aangeval word,” het hy Vrydag in die hof gesê.
Cele dagvaar The Sowetan vir laster.
Die saak duur Maandag voort.
Cele het gesê hy het nie ‘n probleem met die spotprent van hom wat vuurwapens dra nie, maar hy is bekommerd oor ‘n foto wat die koerant digitaal gemanipuleer het sodat dit lyk of hy ‘n vuurwapen vashou.
“As dit ‘n akkurate foto was sou ek nie gekla het nie,” het Cele gesê.
Die koerant se artikels oor hom is ook ongebalanseerd, het hy gesê.
Hy het beweer dat die foto, wat op 7 Julie en 18 Julie 2007 gepubliseer is, “my veltog skade aangerig” het.
Cele sê as die koerant vir hom gesê het dit is gemanipuleer sou hy tevrede gewees het met ‘n verskoning. Hy sê hy is bekommerd dat die foto deur misdadigers op die internet gebruik kan word.
“Dit beteken iemand kan my kop neem en dit op ‘n misdaadtoneel plaas.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA