Cele moet peperduur huurkontrak verduidelik
2010-08-01 19:00
Johannesburg – Die polisie sal hierdie week tydens ‘n perskonferensie met die media praat nadat genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, glo by ‘n peperduur eiendomstransaksie betrokke was.
“Die polisie sal met die media praat tydens ‘n perskonferensie,” het Lindela Mashigo, Cele se woordvoerder, Sondag gesê.
Die Sunday Times het Sondag berig dat Cele glo ‘n R500 miljoen se huurkontrak onderteken het wat beteken dat die polisie se hoofkantore na die Middestad Sanlam-sentrum in Pretoria sal verskuif.
Hierdie eiendom word deur die biljoenêr Roux Shabangu besit.
Volgens berigte is daar verskeie ongerymdhede met die wyse waarop die onderhandelings hanteer is.
Shabangu het reeds op 1 Junie ‘n huurkontrak met Cele onderteken, maar na bewering het hy die gebou eers Woensdag vir sowat R220 miljoen aangeskaf.
Na bewering is die huurkontrak vir 10 jaar geldig.
Die polisie se hoofkantore is tans in Wachthuis reg om die draai van die nuwe gebou.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA