Cele kap media oor ‘onakkurate’ beriggewing
2010-08-04 09:05
Johannesburg - Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het Dinsdag uitgevaar teen onakkurate beriggewing rakende die polisie se nuwe hoofkantoor in die Pretoriase middestad.
Hy was die afgelope week in die spervuur nadat Sunday Times berig het hy het ’n eiendomstransaksie beklink sonder om ’n openbare bodproses daarvoor te volg.
Cele het op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê geen hoof van ’n departement kan ’n eiendomstransaksie sluit nie. Die verantwoordelikheid van die koop, verkoop en huur van geboue vir staatsdepartemente is dié van die departement van openbare werke (DOW).
Volgens Cele het die polisie uitgebrei – soveel so dat Wachthuis, die polisie se huidige nasionale hoofkantoor, te vol is om die administratiewe funksies van die departement te dra. In sommige kantore sit daar tussen ses en agt mense.
Cele het gesê daar is al ’n week nadat hy verlede jaar op 29 Julie as nasionale polisiehoof aangewys is aan hom gesê ’n nuwe hoofkantoor is nodig. Dié gebou sou R4 miljard oor vier jaar gekos het. Cele het geweier en gevra dat daardie geld eerder gebruik word om polisiestasies te bou.
Die polisie begroot jaarliks R1,2 miljard vir die huur van geboue.
Ingevolge wetgewing moes die polisie ’n behoeftebepaling doen rakende die nuwe hoofkantoor. Cele het dié behoeftebepaling, en nie ’n huurooreenkoms nie, goedgekeur.
“Dít is waar my rol as rekenpligtige amptenaar vir die polisie geëindig het,” het Cele gesê.
“Wat van die proses geword het nadat ek die behoeftebepaling geteken het, is die verantwoordelikheid van die DOW.”
Volgens Cele is die nuwe Middestad Sanlamsentrum-hoofkantoor wat teen R500?miljoen oor 10 jaar gehuur word, ook reeds vol.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, sy adjunk, Fikile Mbalula, en verskeie spesialiseenhede sal onder meer in dié gebou gevestig wees.
Oor ’n nuwe gebou vir die provinsiale hoofkantoor vir die polisie in KwaZulu-Natal het Cele gesê die ou gebou se huurkontrak het ná 10 jaar verstryk. Omdat die polisie in KwaZulu-Natal so uitgebrei het, is daar besluit om na ’n nuwe gebou, die Transnet Tower in Smithstraat in Durban, te skuif. Waar die ou gebou 125 parkeerplekke het, het die nuwe gebou plek vir 500 voertuie.
Cele het gesê die polisie huur meer as 1000 geboue landwyd.
“Ek het deur die lys van gebou-eienaars gegaan,” het Cele gesê.
“Daar is nie baie vanne soos Cele of (Roux) Shabangu (’n sakeman wat die Middestad Sanlamsentrum besit) nie, maar daar is baie De Beers en Coetzees. Niks word daaroor gesê nie.
“Maar met ’n van soos Mokwena of Hobo kan ’n mens nie in dié besigheid inkom nie, want anders word daar ’n geraas gemaak,” het hy bygevoeg
- Die Burger