Cele hoop die polisie kan plaasaanvalle gou stop
2010-12-09 08:27
Die Burger
Seshego - “As jou seun R10 vra om dorp toe te gaan, maar terugkom met ’n BMW, moenie stilbly nie. Daar is nie ’n BMW vir R10 nie. Die eienaar van die BMW is heel waarskynlik vermoor.”
Só het genl. Bheki Cele, polisiehoof, gister gesê toe hy die polisie se misdaadplanne vir die Kerstyd bekend gestel het.
Cele het gesê misdaad in Suid-Afrika is “niks anders as alkohol nie”.
Hy het alle polisielede opdrag gegee om onwettige sjebiens toe te maak. “As jy wil dronk word, doen dit by die huis. Moenie op die paaie gaan nie, want ons sal jou vang.”
Hy het polisielede gemaan om nie “trigger happy” te wees nie.
“Maar as die skurke vroue verkrag, kitsbanke opblaas, winkelsentrums beroof en transitorooftogte uitvoer, tree hard teenoor hulle op.”
Cele het onder luide gejuig van die gemeenskap gesê polisielede moenie hul wapens gebruik om rooftogte te pleeg of hul vroue of vriendinne te skiet nie.
Hy het gesê die gemeenskap “moenie misdadigers deur assosiasie wees nie”.
“Die skelms is jul mans, seuns en kêrels. Moenie stilbly daaroor nie.”
Hy het op ’n vraag oor die moord op Willemien Potgieter (2) en haar ouers op ’n plaas in die Vrystaat gesê: “Ons hoop ons kan dié tipe misdaad (plaasaanvalle) baie gou stop.”
Cele het ook gesê vroue “moet ophou om vir hul kêrels te sê watse juweliersware vir hulle gesteel moet word”. Volgens hom is daar baie rooftogte by juwelierswinkels omdat mans juwele vir hul vriendinne steel.
Volg Nuus24 op Twitter.