'Cele het oortree'
2011-02-23 07:01
Pretoria - Genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het hom aan onwettige en onregmatige optrede en wanbestuur skuldig gemaak wat betref ’n huurooreenkoms vir die polisie se hoofkantoor in dié stad.
Siviwe Dongwana, geskorste direkteur-generaal van openbare werke, het hom ook in dié verband aan onregmatige optrede en wanbestuur skuldig gemaak, het die Openbare Beskermer (OB) bevind.
Boonop is die huurkontrak ongeldig, is bevind luidens ’n verslag wat Dinsdag op ’n mediakonferensie hier bekend gemaak is.
Adv. Thuli Madonsela, die OB, het gesê sy het die nasionale tesourie gevra om die huurooreenkoms te hersien om te bepaal watter stappe gedoen kan word om dit tot niet te verklaar.
Sy het ook voorgestel dat die onderskeie staatsorgane ondersoek moet instel om vas te stel of enige misdaad in die proses gepleeg is en om die nodige stappe te doen.
Cele slaan al maande lank vure dood oor bewerings dat hy betrokke was by die ooreenkoms om die Sanlam-Middestad-gebou in Pretoria vir tien jaar en teen meer as R500 miljoen van die sakeman Roux Shabangu te huur.
Madonsela het wel in haar verslag gesê die huurooreenkoms is tussen Shabangu se maatskappy, Roux Property Fund (RPF), en die departement van openbare werke onderteken en nie deur Cele nie.
“Tog het die nasionale kommissaris ’n memorandum gedateer 10 Mei 2010 onderteken waarin hy toestemming vir finansiering vir die huur van die Sanlam-Middestad-gebou gegee het.
“Hy het ook die polisie se finale voorsieningsbestuur-analise vir 25 301,54m² op 19 Julie 2010 onderteken.”
Madonsela het gesê die polisie se betrokkenheid by die verkrygingsproses was onregmatig.
Geoff Doidge, destydse minister van openbare werke, het die huurkontrak verlede jaar opgeskort voordat hy uit die kabinet geskop is. Sy opvolger, me. Gwen Mahlangu-Nkabinde, het die kontrak egter kort ná haar aanstelling opnuut bekragtig.
Verskeie amptenare van die departement van openbare werke, twee voormalige polisiegeneraals en oudhoofde van die polisie se divisie voorsieningsbestuur het verklarings afgelê oor hoe die huurkontrak aan Shabangu, ’n vriend van pres. Jacob Zuma, toegeken is.
Doidge het egter nie ’n verklaring afgelê nie en volgens Madonsela was hy nie te gretig om hulle in hul ondersoek te help nie.
Madonsela het nie bevind dat die verhouding tussen die RPF en die polisie onvanpas is nie.
Cele se kantoor het Dinsdag ’n uitnodiging van die nasionale persklub om die OB se mediakonferensie by te woon van die hand gewys en gesê hulle het nog ’n paar dae nodig om die verslag te bestudeer voordat hulle kommentaar kan lewer.
Madonsela het voorts gesê Nathi Mthethwa, minister van polisie, sal stappe teen lede van die polisie moet doen. Sy wou nie sê of Cele en die ander betrokkenes misdadig opgetree het nie.
Die OB het die ondersoek die afgelope vyf maande in samewerking met personeel van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gedoen.
Volgens Madonsela sal die ondersoek na die tweede huurooreenkoms van ’n gebou in Durban – “waar die primêre akteurs” ook betrokke is – binne ’n maand afgehandel wees.
“Mnr. Shabangu en die polisie se betrokkenheid in die gebeure sal dan hopelik duideliker wees, asook hoe hy by die polisie betrokke geraak het,” het sy gesê.
Dongwana is in Desember vir drie maande met volle salaris geskors hangende ’n ondersoek na beweerde wangedrag.
Gwen Mahlangu-Nkabinde, die minister, het toe gesê dit hou onder meer verband met bewerings van die verontagsaming van opdragte en pligsversuim en dat hy die departement in ’n slegte lig sou stel.
- Volksblad